Sermon 007

Pesach 2026: Die Perfekte Lam, die Ewige Verbond

3 April 2026 · Eksodus 12 · Yohannes 1:29 · Matteus 26–27

A message for the Pesach (Passover) gathering in Malmesbury: the meaning of Pesach, the Passover meal as a prophetic sign, the institution of Pesach in Exodus 12, and its fulfilment in Yeshua, the perfect Lamb, and the new covenant. In Afrikaans.

Transcript

"Kyk, die Lam van Elohim wat die sonde van die wêreld wegneem!"

Yohannes 1:29

Openingsgebed en Verwelkoming

Ons dank Abba Vader dat ons vandag as toonbeeld van die Pesag, die Pesag kan deel onder mede-gelowiges – gelowiges wat 'n pad van Waarheid stap met Vader, en ingeënt is in die makolyf.

Ons dank Abba vir die geleentheid om Yeshua, die Messias, wat vir ons die perfekte Pesaglam is, die pad van waarheid vir ons kom wys het. Wat die harde woorde van hartsverandering vir ons kom meedeel het, en by die ingang van die poorte van die woonplek van die gevalle engele, Sy dissipels geneem het en verklaar het teen die gevalle engele dat geen mag bo Hom is nie, geen mag Hom gevangene kan hou nie – en dat Hy, wat die perfekte lamoffer vir hierdie wêreld moes wees, gekom het om elke siel te red wat Sy Vader in die Hemel Hom gegee het om te red.

Die Betekenis van Pesag

Wat is Pesag?

Die woord "Pesag" (פֶּסַח) beteken letterlik "verbygaan" of "oorslaan." Dit herdenk die nag toe יהוה deur Egipte gegaan het en die eerste gebore seuns geslaan het, maar die huise van die Israeliete verbygegaan het omdat die bloed van die lam aan hul deurposte gesmeer was. Dit is nie bloot 'n historiese herdenking nie – dit is 'n profetiese toonbeeld van Yeshua die Messias, die volmaakte Lam wat eens en vir altyd geoffer is.

Die Pesagmaaltyd as Profetiese Teken

Elke element van die Pesagmaaltyd wys heen na Yeshua:

Die Lam sonder fout (Eks. 12:5) wys heen na Yeshua, die sondlose Seun van Elohim. Die bloed aan die deurposte wys heen na Sy bloed wat ons vryspreek. Die ongesuurde brode wys heen na die uitroei van sonde uit ons lewens. Die bitter kruie herinner ons aan die bitterheid van slawerny – slawerny aan die vlees en sonde. Die haastige eet, met omgorde heupe en staf in die hand, wys heen na ons gereedheid vir die ewige uittog na die Koninkryk van die Vader.

Die Pesag is nie net 'n ou fees nie – dit is die ewige boodskap van bevryding, versoening en terugkeer na Abba Vader. Elke geslag wat die Pesag hou, spreek die ewige taal van verlossing.

Die Instelling van die Pesag – Eksodus 12

Konteks: Egipte en die Uittog

Die seuns van Yisra'el het vier-honderd en dertig jaar in Egipte gewoon (Eks. 12:40). Vir die grootste deel van hierdie tyd was hulle slawe – onderdruk, gebroke en sonder 'n tuiste. Egipte in die Skrif is 'n toonbeeld van die wêreld, van die sondige stelsel waaruit יהוה Sy volk uitlei. Mosheh (Moses) was die verlosserfiguur wat יהוה gestuur het – maar Mosheh self was 'n skadu van die groter Verlosser, Yeshua die Messias.

In hierdie nag van die tiende plaag het יהוה die onderskeid getref tussen Sy volk en die vyand. Die sleutel tot redding was eenvoudig: die bloed van die lam. Nie werke nie, nie verdienste nie – maar geloofsgehoorsaamheid aan die woord van יהוה.

Eksodus 12:1–51 – Die Woord van יהוה

1 יהוה het met Mosheh en Aharon in die land van Mitzrayim gepraat en gesê:

2 "Hierdie maand sal vir julle die begin van die maande wees; dit sal vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.

3 Praat met die hele vergadering van Yisra'el en sê: Op die tiende van hierdie maand sal elke man vir homself, volgens die huis van sy vader, 'n lam vat – 'n lam vir elke huishouding.

4 As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, dan moet hy en sy buurman, wat langs sy huis is, dit vat volgens die getal mense; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken.

5 Julle lam moet perfek, sonder fout wees, 'n rammetjie in sy eerste jaar. Julle mag dit uit die skape of uit die bokke vat.

6 Julle moet dit oppas tot die veertiende dag van dieselfde maand, dan moet die hele vergadering van Yisra'el dit teen sonsondergang slag.

7 Julle moet van die bloed vat en dit aan die twee deurposte en aan die bo-kosyn van die huise waarin hulle dit eet, smeer.

8 Julle moet die vleis in daardie nag eet, oor die vuur gebraai. Julle moet dit saam met ongesuurde brode en bitter kruie eet.

9 Julle moet dit nie rou eet of as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop, pootjies en die binnegoed.

10 Julle mag ook niks daarvan laat oorbly tot die oggend toe nie en wat daarvan oorbly tot die oggend toe, moet julle met vuur verbrand.

11 Só moet julle dit eet: julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; julle moet haastig eet. Dit is Pesag tot יהוה,

12 want Ek sal in hierdie nag deur die land van Mitzrayim gaan en al die eersgeborenes van mense sowel as van diere in die land van Mitzrayim slaan. Ek sal oordeel uitoefen oor al die Elohime van Mitzrayim. Ek is יהוה.

13 Die bloed aan die huise waarin julle is, sal vir julle 'n teken wees; as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan en die plaag sal nie op julle wees om julle te vernietig wanneer Ek die land van Mitzrayim slaan nie.

14 Hierdie dag sal vir julle 'n gedenkdag wees en julle moet dit as 'n fees tot eer van יהוה vier, reg deur julle geslagte. Julle moet dit hou as 'n ewige vasgestelde tyd.

15 Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder, want elkeen wat enige iets gesuurd eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié lewe moet van Yisra'el afgesny word.

16 Op die eerste dag moet daar 'n afgesonderde bymekaarkoms wees en ook op die sewende dag moet daar vir julle 'n afgesonderde bymekaarkoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie, behalwe vir elkeen om te eet, dit alleen mag deur julle voorberei word.

17 Onderhou die Ongesuurde Brode, want op hierdie selfde dag het Ek julle leërs uit die land van Mitzrayim uitgelei; daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as 'n ewige vasgestelde tyd hou.

18 In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, sonsondergang, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, teen sonsondergang.

19 Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie, want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié lewe moet uit die bymekaarkoms van Yisra'el afgesny word, of hy nou 'n besoeker is of 'n seun van die land.

20 Julle mag niks met suurdeeg in, eet nie. In al julle blyplekke moet julle ongesuurde brode eet."

21 Toe het Mosheh al die oudstes van Yisra'el laat roep en vir hulle gesê: "Gaan haal vir julle lammers uit volgens julle families en slag die Pesag.

22 Vat 'n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is en smeer aan die bo-kosyn en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is en niemand van julle mag by die deur van sy huis uitgaan tot dagbreek toe nie,

23 want יהוה sal deurgaan om die hele Mitzrayim te slaan en wanneer Hy die bloed sien aan die bo-kosyn en aan die twee deurposte, sal יהוה by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om in julle huise in te gaan om julle te slaan nie.

24 Julle moet dit hou as 'n vasgestelde tyd vir julself en vir jul kinders, vir ewig.

25 Dit sal wees as julle in die land kom wat יהוה aan julle sal gee, soos Hy beloof het dat julle hierdie diens sal hou

26 en as julle seuns julle sal vra: 'Wat beteken die diens?'

27 dan moet julle sê: 'Dit is die Pesagoffer aan יהוה, wat by die huise van die seuns van Yisra'el in Mitzrayim verbygegaan het, toe Hy die Mitzrayimiete geslaan, maar ons huise gespaar het'." Toe het die volk neergebuig en met hulle gesigte op die grond gelê.

28 Die seuns van Yisra'el het gegaan en gedoen soos יהוה aan Mosheh en Aharon beveel het, so het hulle gedoen.

29 Dit het gebeur om middernag dat יהוה al die eersgeborenes in Mitzrayim geslaan het; van die eersgeborene van Farao af, wat op sy troon gesit het, tot by die eersgeborene van die gevangene wat in die tronk was, asook al die eersgeborenes van die diere.

30 Farao het in die nag opgestaan, hy, al sy diensknegte en al die Mitzrayimiete en daar was 'n groot uitroep in Mitzrayim, want daar was geen huis waarin iemand nie dood is nie.

31 Hy het Mosheh en Aharon in die nag laat roep en gesê: "Staan op, gaan weg onder my volk uit, julle sowel as die seuns van Yisra'el en gaan dien יהוה soos julle gesê het.

32 Vat ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gesê het, gaan weg en seën my ook."

33 Die Mitzrayimiete het aangehou by die volk, om hulle haastig uit die land uit te stuur, want hulle het gedink: 'Ons sal almal sterf!'

34 Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle klere toegebind, op die skouers.

35 Die seuns van Yisra'el het gedoen volgens die woord van Mosheh: hulle het van die Mitzrayimiete silwer en goue goed en klere gevra

36 en יהוה het aan die volk guns verleen in die oë van die Mitzrayimiete en dié het hulle versoek toegestaan. So het hulle die Mitzrayimiete geplunder.

37 Die seuns van Yisra'el het van Ra'amses na Sukkot gereis, omtrent ses honderd duisend manne te voet, buiten die kinders.

38 'n Gemengde menigte van mense het ook saam met hulle opgegaan en troppe kleinvee en beeste; uitermate baie lewende hawe.

39 Hulle het van die deeg wat hulle uit Mitzrayim gebring het, ongesuurde koeke gebak, want dit was nie ingesuur nie omdat hulle uit Mitzrayim uitgedryf is en hulle dus nie plat koeke kon bak nie en ook geen kos vir hulleself voorberei het nie.

40 Die tyd wat die seuns van Yisra'el in Mitzrayim gebly het, was vier honderd en dertig jaar.

41 Dit het gebeur aan die einde van vier honderd en dertig jaar, op dieselfde dag het dit gebeur dat al die leërmagte van יהוה uit Mitzrayim uitgegaan het.

42 Dit is 'n nag van herinnering tot eer van יהוה omdat Hy hulle uit Mitzrayim uitgebring het. Dit is dié nag van יהוה, 'n vasgestelde tyd om onderhou te word deur al die seuns van Yisra'el in hulle geslagte.

43 יהוה het vir Mosheh en Aharon gesê: "Dit is die instelling van die Pesag: géén vreemdeling mag daarvan eet nie,

44 maar elke slaaf van 'n man wat met geld gekoop is, wanneer jy hom besny het, dan mag hy daarvan eet.

45 'n Besoeker of 'n huurling mag nie daarvan eet nie.

46 In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie en julle mag geen been daarvan breek nie.

47 Die hele bymekaarkoms van Yisra'el moet dit hou.

48 As 'n besoeker by jou bly en tot eer van יהוה die Pesag wil vier, moet almal wat manlik is by hom, besny word en dan mag hy nader kom om dit te vier en hy sal soos 'n kind van die land wees, want géén onbesnedene mag daarvan eet nie.

49 Een wet sal geld vir die kind van die land en vir die besoeker wat onder julle bly."

50 So het al die seuns van Yisra'el gedoen. Soos יהוה Mosheh en Aharon beveel het, so het hulle gedoen.

51 Dit het so gebeur dat יהוה die seuns van Yisra'el, volgens hulle leërafdelings, op daardie selfde dag, uit Mitzrayim uitgelei het.

Konteks: Let op vers 46 – geen been van die lam mag gebreek word nie. Hierdie profetiese detail is vervul toe die soldate by die kruis gekom het en Yeshua se bene nie gebreek het nie, omdat Hy reeds dood was (Yoh. 19:33–36). Die Skrif is presies – elke detail van die Pesag wys heen na Yeshua.

Die Vervulling: Yeshua en die Nuwe Verbond

Konteks: Die Laaste Pesag van Yeshua

Ons beweeg nou na die Nuwe Verbond. Yeshua het geweet dit is Sy laaste Pesag as sterflike mens. Hy het hierdie fees met volledige kennis gehou – Hy was sowel die gasheer as die Lam. Elke handeling, elke woord, elke gebaar was deurdrenk met profetiese betekenis. Laat ons met eerbied na die gebeure kyk soos dit in die Skrif vasgelê is.

Matteus 26:1 – 27:66

26:1 Dit was nadat Yeshua al hierdie dinge klaar gesê het dat Hy vir Sy studentevolgelinge sê:

2 "Julle weet oor twee dae is die Pesag en die Seun van die mens sal oorgelewer word om gekruisig te word."

3 In daardie tyd het die leierpriesters en die leraars van die wet en die oudstes van die volk in die paleis van die hoofpriester, wat Kayafa genoem word, bymekaargekom

4 en hulle het 'n vergadering gehou oor Yeshua om Hom deur misleiding te vang en te vermoor.

5 Hulle het gesê: "Nie tydens die fees nie sodat daar nie 'n oproer onder die mense ontstaan nie."

6 Toe Yeshua in Beit-Anyah, in die huis van Shim'on, die pottebakker was,

7 kom 'n vrou na Hom toe met 'n fles geparfumeerde olie wat baie duur is en gooi dit op sy kop uit terwyl Hy aan die tafel skuinsgelê het,

8 maar toe Sy studentevolgelinge dit sien, was hulle ontsteld en sê: "Hoekom dit mors,

9 want dit kon vir baie verkoop en die geld dan aan die armes gegee word?"

10 Yeshua het dit geweet en sê vir hulle: "Waarom val julle die vrou lastig omdat sy 'n pragtige daad vir My gedoen het?

11 Die bedelaars het julle altyd by julle, maar nie altyd vir My nie,

12 want toe sy hierdie aromatiese olie op My liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen asof vir My begrafnis.

13 Dit is waar, Ek sê vir julle, oral in die hele wêreld, waar hierdie goeie boodskap van My verkondig sal word, sal ook gepraat word van wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar."

14 Toe gaan een van die twaalf, genoem Y'hudah van K'riot, na die leierpriesters

15 en sê vir hulle: "Wat is julle gewillig om my te gee en ek sal Hom aan julle oorlewer?" Hulle het hom dertig silwerstukke belowe.

16 en van toe af het hy 'n geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.

17 Toe die eerste dag van onthouding van suurdeeg aanbreek, kom die studentevolgelinge na Yeshua en sê vir Hom: "Waar wil U hê moet ons vir U voorberei om die Pesag te eet?"

Deel Jou Hart: Suurdeeg is in die Skrif altyd 'n simbool van sonde en korrupsie. Die verwydering van suurdeeg uit die huis is 'n profetiese handeling van hartsondersoek. Welke "suurdeeg" moet ons vandag uit ons eie harte verwyder?

18 Hy antwoord: "Gaan na die stad, na 'n sekere persoon en sê vir hom: 'Die Leermeester laat weet: My tyd is naby, Ek sal saam met My studentevolgelinge by jou die Pesag hou'."

19 Die studentevolgelinge het gedoen net soos Yeshua hulle beveel het en hulle het die Pesagmaal voorberei.

20 Toe dit aand geword het, het Hy saam met die twaalf studentevolgelinge skuinsgelê by die tafel

21 en terwyl hulle eet, sê Hy: "Dit is waar, Ek sê vir julle, een van julle sal My oorlewer."

22 Toe word hulle baie bedroef en elkeen van hulle begin vir Hom vra: "Is dit miskien ek, my Meester?"

23 Hy antwoord en sê: "Hy wat sy hand saam met My in die bak in doop, dit is hy wat My sal verraai.

24 Die Seun van die mens gaan weg soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens oorgelewer word! Dit sou vir daardie man goed gewees het as hy nie gebore is nie."

Elke man wat van die Pesaglam eet, wie se hart nie besny is nie, verraai vir die Messias – of hy dit wil doen of nie. Dit sal vir so 'n persoon beter wees as hy nooit gebore is nie. Die besnydenis van die hart is nie 'n opsie nie – dit is 'n vereiste vir ware gemeenskap met die Lam.

25 Y'hudah, wat Hom sou oorlewer, antwoord en sê: "Is dit dan ek, my Meester?" Hy antwoord hom: "Jy self het dit gesê."

26 Terwyl hulle eet, vat Yeshua die brood, dank daarvoor, breek dit en gee dit aan Sy studentevolgelinge en sê: "Neem, eet, dit is My liggaam."

27 Hy vat ook die beker, dank daarvoor, gee dit aan hulle en sê: "Drink almal daaruit,

28 want dit is My bloed, van die Nuwe Verbond, wat vir baie uitgestort word tot vryspraak van sondes.

29 maar Ek sê vir julle: 'Ek sal van nou af glad nie weer van hierdie vrug van die wynstok drink, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut saam met julle sal drink in die Koninkryk van My Vader nie'."

Konteks – Die Nuwe Verbond: Hier lê 'n duidelike belofte van die redding wat Yeshua aan ons bied, en die duidelike woord dat Hy gaan terugkeer aarde toe. Die Pesag wys nie net terug na die uittog uit Egipte nie – dit wys ook vooruit na die bruilofsmaal van die Lam in die Koninkryk van die Vader (Openbaring 19:9). Elke Pesag wat ons hou, is 'n proklamasie van Sy dood én 'n uitkyk na Sy wederkoms.

30 Hulle het lofliedere gesing en uitgegaan na die Olyfberg.

31 Toe sê Yeshua vir hulle: "Julle sal almal in hierdie nag aanstoot aan My neem, want daar is geskrywe: 'Ek sal die Skaapwagter slaan en die skape van die kudde sal uitmekaar gejaag word,'

32 maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na die Galila gaan."

33 Kefa antwoord en sê vir Hom: "Al sou almal ook teen U aanstoot neem, ek sal nooit aanstoot neem nie."

34 Yeshua sê vir hom: "Dit is waar, Ek sê vir jou, in hierdie nag, sal jy My drie maal ontken voordat die haan sou kraai."

35 Kefa sê vir Hom: "Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U nooit ontken nie!" Al die studentevolgelinge het ook so gesê.

36 Toe kom Yeshua saam met hulle in 'n plek genoem Gat-Sh'manim en Hy sê vir die studentevolgelinge: "Sit hier terwyl Ek gaan om te bid."

37 Hy vat Kefa en die twee seuns van Zavdai saam en begin bedroef en benoud word.

38 Hy sê vir hulle: "My verstand, wil en emosie is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My."

39 Hy het 'n entjie onttrek en op Sy gesig geval en gebid en gesê: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil."

Deel Jou Hart: Die tuin van Getsemane openbaar die mees intieme oomblik van Yeshua se menslikheid. Hy het gely. Hy het geworstel. En tog het Hy geskryf: "nie My wil nie, maar U wil." Dit is die kern van ware dissipelskap.

40 Hy gaan na die studentevolgelinge en vind hulle aan die slaap en Hy sê vir Kefa: "Kon julle nie een uur saam met My waak nie?

Hoekom is die mens so swak dat hy nie aan die brand kan bly nie? Hy is vinnig om die vlammetjie aan te steek, maar die olie in sy lamp droog vinnig op. Waar is die mens se hart werklik dat hy nie saam met Yeshua kan waak teen die vyand nie?

41 Waak en bid sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak."

42 Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: "My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat dit wees soos U wil."

43 Hy gaan na hulle toe en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar

44 en Hy het weer van hulle af weggegaan en vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê.

45 Toe kom Hy by Sy studentevolgelinge en sê vir hulle: "Slaap maar voort en word verfris. Let op, die uur is naby en die Seun van die mens word oorgegee in die hande van sondaars.

46 Staan op, laat ons gaan; let op, hy wat My oorlewer is hier."

47 Terwyl Hy nog praat, kom Y'hudah, een van die twaalf vanaf die leierpriesters en oudstes van die volk af en saam met hom 'n groot skare met swaarde en stokke.

48 Die een wat Hom oorlewer, Y'hudah, het vir hulle 'n teken gegee en gesê: "Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!"

49 Hy roep dadelik na Yeshua en sê: "Vrede, vreugde, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, my Meester" en hy soen Hom,

50 maar Yeshua sê vir hom: "Het jy hiervoor gekom, My vriend?" Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Yeshua en gryp Hom

51 en een wat saam met Yeshua was, het sy hand uitgesteek, sy swaard uitgetrek en hy het die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy oor afgesny.

52 Toe sê Yeshua vir hom: "Sit jou swaard in sy plek terug, want almal wat die swaard optel, sal deur die swaard doodgemaak word.

53 Of dink jy nie dat Ek die vermoë het om op hierdie oomblik tot My Vader te bid en Hy meer as twaalf legioene van engele tot My beskikking sal stel nie?

Deel Jou Hart: Hierdie is merkwaardig. Yeshua het beskikking oor 72000 engele wat Hom in ‘n oogwink sal kom ondersteun en vir Hom veg. Is dit nie wat ons ook in Openbaring sien nie, Sy Engele kom skei die kaf van die koring oor die hele aarde. Hy het beskikking oor ‘n groot menigte. Ons siening van ons Messias is reg, Hy dra die karakter en outoriteit van YHWH ons Elohim, Hy is nederig en lankmoedig tog beskik Hy oor 72000 gevegs engele. Hierdie is werklik merkwaardig mense.

54 Hoe sou die voorspellings van die Skrifte dan vervul word dat dit só moet wees?"

55 In dieselfde tyd het Yeshua vir die mense gesê: "Het julle soos teen 'n dief uitgekom met swaarde en stokke om My te vang? Daagliks het Ek langs julle gesit en leer in die tempel en julle het My nie gevang nie,"

56 maar dit het alles gebeur sodat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die studentevolgelinge van Hom af weggegaan en gevlug

57 en die wat Yeshua gevange geneem het, het Hom weggevat na Kayafa, die hoofpriester, waar die leraars van die wet en die oudstes bymekaar was.

58 Shim'on Kefa het Hom van 'n afstand af gevolg tot by die paleis van die hoofpriester en hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om die resultaat te sien.

59 Die leierpriesters, die oudstes en die hele Joodse Raad het getuienisse teen Yeshua gesoek om Hom dood te maak

60 en niks gevind nie. Alhoewel daar baie met onwaar getuienis gekom het, het hulle niks gevind nie. Eindelik kom daar twee

61 en sê: "Hierdie man het gesê: 'Ek is by magte om die tempel van Elohim af te breek en dit in drie dae op te bou'."

62 Die hoofpriester staan op en sê vir Hom: "Het U nie eers een antwoord vir hulle wat teen U getuig nie?"

63 Yeshua het egter stilgebly en die hoofpriester antwoord en sê vir Hom: "Ek eis 'n eed van U by die Lewende Elohim dat U vir ons sê of U dié Gesalfde Een, die Seun van Elohim, is?"

64 Yeshua antwoord hom: "U het dit gesê, maar Ek sê vir julle: 'Van nou af aan, sal julle die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van Krag en ook sien kom op die wolke van die hemel'."

65 Toe skeur die hoofpriester sy kleed en sê: "Let op, Hy praat kwaad teen Elohim! Waarom het ons nog getuies nodig? Julle het Sy kwaadpraat teen Elohim gehoor!

66 Wat dink julle?" Hulle antwoord en sê: "Hy verdien die dood."

67 Toe het hulle in Sy gesig gespoeg en Hom teen die kop geslaan en ander het Hom geklap

68 en gesê: "Profeteer vir ons, Gesalfde Een! Wie is dit wat U slaan?"

69 Kefa het buite in die binnehof gesit en 'n slavin het na hom toe gekom en gesê: "Jy was ook saam met Yeshua, die Een vanaf die Galila,"

70 maar hy het dit voor almal ontken en gesê: "Ek weet nie waarvan jy praat nie."

71 Terwyl hy uitgaan na die stoep toe, sien 'n ander slavin hom en sê aan dié wat daar was: "Hierdie een was ook by Yeshua, van Natzeret."

72 Met 'n eed ontken hy dit weer: "Ek ken die Man nie."

73 'n Rukkie later kom dié wat daar staan en sê vir Kefa: "Waarlik, jy is ook éen van hulle, want ook deur jou uitspraak is dit duidelik."

74 Toe begin hy vloek en sweer: "Ek ken die Man nie." Dadelik het die haan gekraai

75 en Kefa het die woord van Yeshua onthou wat Hy vir hom gesê het: "Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal ontken" en hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Konteks – Kefa se Ontkenning: Kefa se ontkenning wys ons die mens se swakheid sonder die krag van die Gees. Maar die verhaal eindig nie daar nie – na die opstanding het Yeshua vir Kefa drie maal gevra: "Lief jy My?" – een herstel vir elke ontkenning. Abba Vader gee altyd 'n tweede kans aan 'n opregte hart.

27:1 Met dagbreek het die Raad al die leierpriesters en die oudstes van die volk bymekaar gekry en teen Yeshua vergader oor hoe om Hom dood te maak

2 en hulle het Hom vasgebind en weggevat en Hom oorgelewer aan Pilatos, die goewerneur.

3 Toe Y'hudah, die een wat Hom oorgelewer het, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die leierpriesters en die oudstes

4 en gesê: "Ek het gesondig deur onskuldige bloed oor te lewer," maar hulle sê: "Wat gaan dit ons aan wat jy ontdek?"

5 Hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en onttrek, weggegaan en homself opgehang.

6 maar die leierpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: "Dit is nie reg volgens die wet om dit in die offerande te gooi nie omdat dit geld is wat bloed gekoop het."

7 Die raad het besluit dat hulle die stuk grond van 'n pottebakker daarmee koop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge.

8 Daarom is dié stuk grond Bloedgrond genoem, tot vandag toe.

9 Toe is vervul wat deur die profeet gesê is: "Ek het dertig silwerstukke gevat van die seuns van Yisra'el; die waarde van die Kosbare Een, waarop hulle ooreengekom het

10 en ek het dit vir hulle gegee vir die grond van die pottebakker, soos hy my beveel het."

11 Yeshua het voor die goewerneur gestaan en die goewerneur het Hom gevra en gesê: "Is U die Koning van die Jode?" Yeshua antwoord hom: "U sê dit."

12 Terwyl Hy deur die leierpriesters en die oudstes beskuldig word, het Hy niks geantwoord nie.

13 Toe sê Pilatos vir Hom: "Hoor U nie hoeveel hulle teen U getuig nie?"

14 Hy het hom op geen enkele woord geantwoord nie sodat die goewerneur hom baie bewonder het.

15 By elke fees was die goewerneur gewoond om een gevangene, die mense se keuse, vir hulle vry te laat

16 en in daardie tyd het hulle 'n prominente gevangene gehad wat Bar-Abba genoem is.

17 Omdat hulle dan byeengekom het, sê Pilatos vir hulle: "Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat: 'Bar-Abba of Yeshua, wat genoem word dié Gesalfde Een'?"

18 Hy het geweet dat hulle Hom uit afguns oorgelewer het.

19 Terwyl hy op die regstoel sit, het sy vrou na hom toe gestuur en gesê: "Moet niks te doen hê met dié Onskuldige Een nie, want ek het vandag in 'n droom baie gely as gevolg van Hom."

20 Die leierpriesters en die oudstes het die skare oortuig dat hulle Bar-Abba moes vra, maar Yeshua vernietig.

21 Die goewerneur antwoord en sê vir hulle: "Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?" Hulle antwoord: "Bar-Abba!"

22 Pilatos sê vir hulle: "Wat moet ek dan met Yeshua, wat genoem word dié Gesalfde Een, doen?" Hulle sê almal vir hom: "Hang Hom aan 'n kruis!"

23 Die goewerneur sê: "Watter boosheid het Hy dan gedoen?" Hulle skreeu egter harder en sê: "Laat Hom gekruisig word!"

24 Toe Pilatos besef dat niks help nie, maar eerder 'n oproer veroorsaak word, het hy water gevat en sy hande voor die skare gewas en gesê: "Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie Onskuldige Een; soos julle kan sien"

25 en die hele volk antwoord en sê: "Sy bloed is op ons en op ons seuns!"

26 Toe laat hy Bar-Abba vir hulle vry, maar Yeshua het hy laat gésel met swepe en oorgelewer om gekruisig te word.

27 Daarop neem die goewerneur se soldate Yeshua met hulle saam in die paleiswag se kwartiere in en bring die hele afdeling soldate rondom Hom bymekaar,

28 trek Sy klere uit en gooi 'n skarlaken rooi mantel om Hom.

29 Hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op Sy kop en 'n riet in Sy regterhand en kniel voor Hom en spot Hom en sê: "Wees gegroet, Koning van die Jode"

30 en hulle spoeg op Hom en gryp die riet en slaan Hom op Sy kop.

31 Nadat hulle Hom gespot het, trek hulle die mantel uit en trek Sy klere vir Hom aan en vat Hom weg om gekruisig te word.

32 Terwyl hulle uitgaan, vind hulle 'n man van Kurene, met die naam van Shim'on en dwing hom om Sy kruis te dra

33 en hulle het gekom by 'n plek wat Gulgolta genoem word; dit beteken: Plek van die Kopbeen.

34 Hulle het vir Hom asyn, met 'n doofmiddel gemeng, gegee om te drink en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie,

35 maar toe hulle Hom gekruisig het, het hulle Sy klere verdeel deur die lot te werp.

36 Hulle het gaan sit om daar oor Hom wag te hou

37 en bokant Sy kop het hulle Sy oortreding neergeskryf:

HY IS YESHUA, DIE KONING VAN DIE JODE

38 Saam met Hom is twee diewe gekruisig, een aan die regter- en een aan die linkerkant.

39 Die verbygangers het Hom beledig terwyl hulle hul koppe skud

40 en sê: "U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van Elohim is, kom van die kruis af!"

41 Net so het ook die leierpriesters, saam met die leraars van die wet, die oudstes en die Fariseërs, gespot en gesê:

42 "Ander het Hy gered, Homself kan Hy nie red nie. As Hy die Koning van Yisra'el is, laat Hom nou van die kruis afkom en ons sal in Hom vertrou."

43 "Hy het op Elohim vertrou; laat Hy Hom nou red as Hy so wil; want Hy het gesê: 'Ek is die Seun van Elohim'."

44 Net so ook het die diewe wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

45 Van die sesde uur (twaalf uur middag) af het daar duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur (drie uur) toe

46 en omtrent die negende uur het Yeshua met 'n harde stem uitgeroep en gesê: "My Magtige Elohim! My Magtige Elohim! Waarom spaar U my nog (duur dit voort)?"

Konteks – Psalm 22: Hierdie uitroep is die begin van Psalm 22 – 'n Psalm van Dawid wat meer as duisend jaar voor die kruisiging geskryf is. Dit beskryf die kruisiging in verbasende besonderheid: die deurboorde hande en voete, die lot wat oor die klere gegooi word, die spot van omstanders. Yeshua het nie net 'n vers aangehaal nie – Hy het die volle Psalm vervul. Lees Psalm 22 in sy geheel as voorbereiding vir die Pesag.

47 Sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: "Hy roep vir Eliyahu."

48 Toe hardloop daar dadelik een van hulle en vat 'n spons, maak dit vol asyn, sit dit op 'n riet en gee vir Hom om te drink,

49 maar die ander sê: "Neem dit weg, laat ons sien of Eliyahu kom om Hom te verlos,"

50 maar Yeshua het weer met 'n harde stem uitgeroep en Sy gees het Hom verlaat.

51 Onmiddellik het die gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo na onder, die aarde het gebewe, die rotse het oopgebreek,

52 die grafte het oopgegaan en baie liggame van die afgesonderdes, het opgestaan.

53 Hulle het weggegaan van die grafte af en ná Sy opstanding het hulle in die afgesonderde stad ingekom en aan baie verskyn.

54 Toe die hoofman oor 'n honderd en die wat saam met hom by Yeshua waggehou het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: "Waarlik, hierdie is die Seun van Elohim."

55 Daar was baie vroue wat van ver af gekyk het, wat vir Yeshua van die Galila af gevolg en Hom versorg het.

56 Tussen hulle was daar Miryam van Migdala en Miryam, die moeder van Ya'akov en Yosef en die moeder van die seuns van Zavdai.

57 Toe dit aand geword het, het daar 'n ryk man van Ramatayim gekom met die naam van Yosef, wat self ook 'n studentevolgeling van Yeshua was.

58 Hy het na Pilatos gegaan en die liggaam van Yeshua gevra en Pilatos het beveel dat die liggaam aan hom oorgegee moes word.

59 Yosef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai

60 en dit in sy nuwe graf gesit, wat hy in die rots uitgekap het, 'n groot steen teen die ingang van die graf gerol en weggegaan.

61 Miryam van Migdala en die ander Miryam was daar en hulle het oorkant die graf gesit.

62 Die volgende dag, ná die voorbereiding, gaan die leierpriesters en die Fariseërs saam na Pilatos

63 en sê: "Ons meester, ons onthou dat dié misleier, toe Hy gelewe het, gesê het: 'Ek sal na drie dae opstaan'."

64 "Gee dan bevel dat die graf bewaak word tot die derde dag toe dat Sy studentevolgelinge nie miskien in die nag kom, Hom steel en vir die mense sê Hy het opgestaan uit die dood uit nie, want die laaste misleiding sal erger wees as die eerste."

65 Pilatos sê vir hulle: "Daar is vir julle wagte, gaan bewaak dit volgens wat julle verstaan"

66 en hulle het weggegaan om die graf te bewaak en saam met die wag 'n seël op die steen gesit.

Die Seël op die Klip: Die owerhede het gedink dat 'n seël en wagte genoeg sou wees om die dood permanent te maak. Maar geen mens-, geen engel-, geen duiwelse mag – kan 'n seël plaas wat die krag van Abba Vader se opstandingskrag kan keer. Die derde dag het bewys: die graf is leeg. Yeshua leef. En omdat Hy leef, leef ons ook.

Samevatting: Die Boodskap van Pesag 2026

Die Pesag is nie net 'n herdenking van die verlede nie. Dit is 'n lewende, profetiese daad wat ons elke jaar laat staan by die kruispunt van geskiedenis: die uittog uit Egipte wys heen na die uittog uit sonde; die bloed van die lam wys heen na die bloed van Yeshua; die Pesagmaal wys heen na die bruilofsmaal van die Lam.

Ons eet hierdie maal met omgorde heupe – gereed vir die Koninkryk. Ons drink die beker van die Nuwe Verbond – gereinig deur Sy bloed. Ons verwyder die suurdeeg – ons bid dat Abba Vader die sonde en korrupsie uit ons harte uithaal.

Die vraag wat elke Pesag aan ons stel, is nie: "Verstaan jy die geskiedenis?" Die vraag is: "Is jou hart besny? Is die bloed van die Lam aan die deurpos van jou hart gesmeer? Loop jy werklik in die pad van Waarheid?"

Mag hierdie Pesag 2026 vir elkeen van ons 'n jaar van dieper toewyding wees. Mag die suurdeeg van hoogmoed, bitterheid, ongehoorsaamheid en liefdeloosheid uit ons huise verwyder word. En mag ons, as gemeenskap van gelowiges, saam uitsien na die dag wanneer Yeshua die beker van die vrug van die wynstok nuut saam met ons sal drink – in die Koninkryk van Sy Vader.

חַג שָׂמֵחַ

Geseënde Pesag!

My Response: Hear and Do

What will I put into practice from this teaching?

Keep Listening

Hear every teaching as it is released, in your preferred podcast app or right here on the site.